God gee om
Dit voel somtyds asof niemand omgee as jy seer beleef nie.
Dawid het gesê: “Ek soek hulp, maar niemand wil help nie, daar is vir my geen vlugkans nie en niemand gee vir my om nie” (Ps 142:5). Voel jy ook somtyds so? Voel jy ook somtyds dat jy saam met Salomo wil uitroep dat selfs die beste weldaad van die goddelose wreed is (Spr 12:10 OAV)? Voel dit somtyds asof niemand na jou luister en dat die mense wat oor jou besorg moet wees, jou eerder seermaak as dat hulle jou in jou behoeftes bystaan?
Somtyds is dit maar net die manier hoe ons alles rondom ons interpreteer. Dikwels weerspieël dit egter die hardvogtigheid en selfgesentreerdheid van diegene rondom ons. Ja, selfs van die Christene! Maar daar is iemand wat werklik omgee – God gee vir jou om.
Ons wonder somtyds of die Here selfs bewus is van ons bestaan. Ek het ‘n man geken wat in dieselfde (klein) gemeente as ek was. Ons het elke week gesels maar selfs na baie jare het hy nie my naam geken nie. Hy het my altyd op ‘n naam genoem wat nie my naam was nie. Mense tree dikwels op asof ons nie eens bestaan nie. Maar God weet nie net dat jy bestaan nie, Hy ken jou naam.
“Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (Jes 43:1). “Ek ken jou op jou naam” (Eks 33:17). Ons is nie net blote nommers in God se databasis nie. Hy ken ons name, maar selfs nog meer - Hy weet alles van ons. Dikwels is dit moeilik om te verstaan hoe dit moontlik is dat God jou naam ken as die mense naby, en rondom jou, dit nie eens ken nie. Dit is egter ons probleem. Omdat ons voel dat mense nie vir ons omgee nie, reken ons dat God ook nie omgee nie. Maar God gee wel om en selfs meer as wat ons ooit kan dink.
God hou rekord van elke voëltjie wat sterf en elke haar op ons koppe (Mat 10:29-30). Indien Hy dus ingelig is oor hierdie onbelangrike detail van ons lewens, dink jy nie dat Hy selfs nog meer omgee en nog meer ingelig is oor daardie lewensbelangrike sake waarmee ons so dikwels worstel nie? Daar is nie een enkele probleem te groot of te klein vir God om van te weet nie en waarvoor Hy nie omgee nie. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat die hare op mense se koppe tel nie, maar God doen dit. Daarom, as Hy omgee oor die minste van ons bekommernisse, sal Hy nie selfs meer omgee wanneer dit kom by daardie groot probleme, trauma, ontwrigtings, vrese en frustrasies wat ons in die gesig staar nie?
Mense sê dikwels dat hulle omgee, maar tog word hulle nie deur jou pyn geraak nie. God weet nie net van jou hartseer nie, Hy voel met jou en vir jou. Het jou vriende jou versaak? Is dit dat mense jou misverstaan? Verdraai hulle jou goedbedoelde woorde tot iets wat jy nie bedoel het nie? Praat hulle sleg van jou? Maak hulle jou fisies en emosioneel seer? Tree hulle op asof jy nie bestaan nie? Hulle het dieselfde, en nog veel meer, aan Jesus gedoen. Daarom is Hy bekend met ons stryd. Hy voel met ons en Hy voel vir ons as ons deur moeilike tye gaan. Daar is nie een enkele seer wat jy voel, wat Hy nie op presies dieselfde manier voel nie.
Maar God weet nie net wat ons probleme is nie. Hy voel nie net ons pyn saam met ons nie – Hy gee vir ons om en Hy sorg vir ons. Hy het empatie met ons. Mense sal dikwels op ons probleme reageer deur te sê dat ons dit oor onsself gebring het, en dikwels is dit die waarheid. Maar God deel nie blaam uit nie. Hy is lief vir almal in nood. Hy sorg vir hulle, Hy is besorg oor hulle en Hy is hulle genadig.
Somtyds wil ons nie betrokke raak by ‘n ander se seer omdat dit te veel is vir ons om te dra. Maar God draai nooit Sy gesig weg nie, maak nie saak wat gebeur nie. Toe die rotse en klippe Stefanus se bene verbrysel het en toe sy ore met godslastering, beledigings en beskuldigings gevul is, toe het sy vriende gevlug. Maar Jesus het aan die regterhand van die Troon gestaan en elkeen van daardie houe saam met Stefanus ontvang. Dit was asof Jesus reg langs Stefanus gestaan het daar waar hulle hom buite die stad onder rotse en beledigings begrawe het (Hand 7:54-60).
Mense se ongevoeligheid en hardheid ten opsigte van ons nood maak dikwels seerder as die probleme wat ons moet hanteer. Maar God is sensitief, genadig, teer, liefdevol, sorgsaam en sag met hulle wat in die stryd is. Die probleem is egter dat ons dikwels te midde van die stryd so daarop ingestel is om na mense uit te reik vir hulp, dat ons vergeet om te sien dat die Almagtige God besig is om na ons uit te reik om ons in ons oomblik van swakheid aan te raak.
Petrus, wat aan lydende Christene geskryf het, het gesê: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Pet 5:7). Ja, Hy sorg inderdaad vir ons, maar ons het nodig om ons sorge en bekommernisse op Hom te plaas. So dikwels gebeur dit dat ons probeer om dit self te dra terwyl ons ons lot bekla dat niemand ‘n vinger lig om ons te help nie. Intussen wag ons Here Jesus net vir ons om alles op Hom af te laai. Wil jy nie maar kom en al jou sorge aan Sy voete kom plaas nie? Ja, die probleme mag dalk nie weggaan nie, maar as ons weet dat Hy die las met ons deel, is dit soveel ligter en makliker om te dra.
Ek kan dit geensins beter stel as in daardie wonderlike gesang van Joseph Scriven nie. Baie van ons ken dit uit ons koppe, maar kom ons kyk net weereens na die woorde:
What a Friend we have in Jesus, all our sins and griefs to bear! |
Wat 'n vriend het ons in Jesus, As versoeking en beproewing Is ons swak, gedruk deur laste
|